icon-newsletter

Waar is God in swaarkry tye?

Inhoud

  1. Ps 107
  2. Bybelstudie 1: Waar is God in swaarkry tye?
  3. Bybelstudie 2: Om te wag vir Goddelike uitkoms.
  4. ‘n Persoonlike getuienis: Vassit; ‘n les in wag

Psalm 107:1–43

1 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” 2 So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3 en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.

4 Party was verdwaal in die woestyn, in ’n barre wêreld, en kon die pad na ’n bewoonde stad nie kry nie. 5 Hulle was honger en dors, hulle was uitgeput, 6 maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp en Hy het hulle gered uit hulle ellende. 7 Hy het hulle op die regte pad gebring en by ’n bewoonde stad laat uitkom. 8 HULLE MOET die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 9 Hy het die dors geles van dié wat versmag het, Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het.

10 Party het in die donker gesit, in diep duisternis, hulle was gevangenes, in ellende en in boeie, 11 want hulle het hulle verset teen die bevele van God, hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan. 12 Hy het hulle laat knak onder swaarkry, hulle het inmekaar gesak, en niemand het gehelp nie. 13 Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. 14 Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis, laat uitkom, Hy het hulle boeie stukkend gebreek. 15 HULLE MOET die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen, 16 want Hy het koperdeure oopgebreek, ystergrendels stukkend geslaan.

17 Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. 18 Alle kos het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai, 19 maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende, 20 Hy het hulle met ’n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom. 21 HULLE MOET die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 22 Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.

23 Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. 24 Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. 25 Op sy bevel het ’n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. 26 Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs 27 en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie. 28 Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. 29 Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. 30 Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte. God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom. 31 HULLE MOET die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 32 Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering, Hom prys in die byeenkoms van die leiers.

33 Hy verander waterryke gebied in woestyn, fonteinwêreld in dorsland, 34 Hy maak vrugbare grond brak oor die slegte dade van dié wat daar woon.

35 Hy verander woestyngebied in rietvlei, dorsland in fonteinwêreld 36 en laat honger mense hulle daar vestig dat hulle stede kan stig om in te woon. 37 Hulle bewerk lande en plant wingerde, en dié lewer hulle oeste. 38 Hy seën hulle en hulle word vinnig meer, Hy laat hulle vee nie minder word nie.

39 En as die mense minder word en wegkwyn onder die druk van teëspoed en moeilikheid, 40 dan is dit die magtiges wat Hy tref met vernedering en wat Hy laat ronddwaal in ’n wilde wêreld sonder pad.

41 Hy beskerm die armes teen verdrukking en maak hulle nakomelinge so talryk soos kleinvee. 42 As die opregtes dit sien, is hulle bly: alle onreg het tot ’n einde gekom.

43 Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou

Bybelstudie 1

Waar is God in swaarkry tye?

Ps 107 is vir my persoonlik een van die grootste skatte wat ek in die Bybel ontdek het. Die laaste vers, Ps 107:43 lees Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou.”

Wat is die dinge waarop ons moet ag gee? Waarop moet ons let?                             Kom ons kyk na die inhoud van Ps 107 en sien wat is so belangrik.

In Ps 107 word vier oorsake van swaarkry bespreek met die klem op God se groot genade in elke situasie. Elkeen van God se kinders beleef storms iewers in ons lewens. Ons is nie gevrywaar van swaar tye omdat ons gered is nie, maar so dikwels soek ons na die sin van ons swaarkry en wonder ons waar God in hierdie swaar tye is.

Bybel kommentare en predikers bekyk hierdie skrif gedeelte dikwels uit verskillend hoeke en haal verskillende lesse daar uit. Sommige Bybel kommentare bespreek dit asof hier van verskillende groepe verlore sondaars gepraat word en hoe hulle by God uitkom. Ander is weer van mening die Psalm skrywer verwys na wedergebore kinders van God, hulle volhardende sondes en hul pad van geestelike groei. Ander sien dit weer as die geskiedenis van die volk Israel wat oa in die woestyn rond gedwaal het en in ballingskap was.

Vir die doel van hierdie studie wil ek graag na hierdie Psalm kyk uit die hoek daarvan dat al vier groepe reeds gelowiges is.

Ek wil jou graag nooi om saam met my Psalm 107 so bietjie van naderby te bekyk. Jy sal sien daar word van vier groepe mense gepraat. Probeer om verby die fisiese omstandighede te kyk en sien die geestes toestand waarin hulle hulself bevind.

 Inleiding (Ps 107:1-3) “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” 2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.

 Die verdwaaldes (Ps 107:4-9)

Party was verdwaal in die woestyn, in ’n barre wêreld, en kon die pad na ’n bewoonde stad nie kry nie. 5Hulle was honger en dors, hulle was uitgeput,

6maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp en Hy het hulle gered uit hulle ellende. 7Hy het hulle op die regte pad gebring en by ’n bewoonde stad laat uitkom.

8Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy onderdade wat Hy aan mense doen. 9Hy het die dors geles van dié wat versmag het, Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het.

  1. In watter sitsuasies bevind hulleself?
  2. Wat se emosies beleef hulle?
  3. Wat maak dat hulle na God roep?
  4. Wat is die uitkoms?
  5. Watter opdrag het hulle?

Die gevangenes (Ps 107:10-16)

Party het in die donker gesit, in diep duisternis, hulle was gevangenes, in ellende en in boeie,

11want hulle het hulle verset teen die bevele van God, hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan. 12Hy het hulle laat knak onder swaarkry, hulle het inmekaar gesak, en niemand het gehelp nie.

 13Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. 14Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis, laat uitkom,

Hy het hulle boeie stukkend gebreek.

 15Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen, 16want Hy het koperdeure oopgebreek,ystergrendels stukkend geslaan.

  1. In watter sitsuasies bevind hulleself?
  2. Wat se emosies beleef hulle?
  3. Wat het daartoe aanleiding gegee dat hulle hulself in die situasie bevind?
  4. Wat maak dat hulle na God roep?
  5. Wat is die uitkoms?
  6. Watter opdrag het hulle?

Die siekes (Ps 107:17-22)

Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. 18Alle kos het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai,

19maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende, 20Hy het hulle met ’n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom.

21Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 22Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.

  1. In watter sitsuasies bevind hulleself?
  2. Wat se emosies beleef hulle?
  3. Wat het daartoe aanleiding gegee dat hulle hulself in die situasie bevind?
  4. Wat maak dat hulle na God roep?
  5. Wat is die uitkoms?
  6. Watter opdrag het hulle?

Die hardwerkendes (Ps 107:23-32)

Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. 24Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. 25Op sy bevel het ’n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. 26Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs 27en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie.

28Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle llende gelei. 29Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. 30Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte. God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom.

31Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 32Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering, Hom prys in die byeenkoms van die leiers.

  1. In watter sitsuasies bevind hulleself?
  2. Wat se emosies beleef hulle?
  3. Wat het daartoe aanleiding gegee dat hulle hulself in die situasie bevind?
  4. Wat maak dat hulle na God roep?
  5. Wat is die uitkoms?
  6. Watter opdrag het hulle?

Toepassing

Ons sien dat die eerste groep, die verdwaaldes mense is wat geestelik nie rigting en vastigheid het nie. Mense wat geestelik honger en dors is maar ook geestelik uitgeput is. Hier staan nie wat die rede vir hulle situasie is nie, maar as ons so om ons kyk is daar baie Christene wat geestelik honger en dors is omdat hulle nie tyd maak om by die Here self uit te kom nie. Daar is ook baie ander redes soos:

  • Die swaar van die lewe maak dat hulle moeg en hooploos is
  • Die kerk waar hulle gevoed moet word is dood
  • Seerkry in die kerk
  • ‘n Godsdienstige lewe sonder ‘n persoonlike verhouding met God

Groep twee is die mense wat in sonde bly voort lewe. Mense wat hulle verset, of wat rebeleer teen die bevele van God. Die gevolg is dat hulle nie in die vryheid kan leef wat God vir Sy kinders bedoel het nie. Die bande van sonde bind hulle steeds en hulle ervaar nie God se lig nie. Hulle voel vasgekeer, in ‘n put van duisternis.

Dan kry ons die derde groep mense wat pyn en beproewings ervaar as gevolg van hulle eie sondes. (Amp) Some are fools [made ill] because of the way of their transgressions and are afflicted because of their iniquities.

Die laaste groep is die christene wat naby God leef. Hulle ervaar Sy wonderwerke en beskerming en moontlik maak hulle nog hulle bestaan as vissers van mense op die groot waters van die lewe. Hulle het ‘n stabiele lewe, maar sonder dat hulle oënskynlik iets verkeerd gedoen het, bring God storms in hulle lewe.

Kan jy jouself dalk met een of selfs meer van die groepe vereenselwig? Voel jy dalk geestelik honger en verdwaald of vasgevang in sondes? Ly jy dalk as gevolg van sondes wat jy gedoen het of ervaar jy dalk ‘n storm wat om jou woed waaroor jy geen beheer het nie?

Hierdie is natuurlik geestestoestande waarin enige christen enige tyd kan wees en selfs meer as een keer. Ons kan so maklik ons stiltetyd of die gemeenskap van gelowiges verwaarloos en dan ‘n geestelike droogte beleef. Ons kan ook so maklik ingee vir versoekings en dan in sonde vasgevang raak, of ons moet dikwels met die baie slegte gevolge van ons sondes saamleef. Dikwels gebeur daar dinge om ons waaroor ons geen beheer het nie, en dan word ons heen en weer geslinger deur omstandighede buite ons beheer.

Wat my opval is dat almal eers so te sê aan die einde van hulleself gekom het, voordat hulle na God geroep het. Hoor wat sê die Ou Vertaling van die verdwaaldes: “hulle siel het in hulle versmag.” en die Amplified Biblethey fainted; their lives were near to being extinguished” Ons lees dat die wat in die duister was, het inmekaar gesak voor hulle geroep het. Die siekes het by die dood omgedraai, en die in die storm, was radeloos en het aan die einde van hulle eie wysheid gekom. Eers toe, het hulle om hulp geroep.

Maar hoe moet ons dan roep?

  1. Die belangrikste ding is dat ons by ‘n punt moet kom waar ons besef ons kan nie meer self nie. Tot dan kan ‘n hulp gebed soos ‘n sondagskool gebedjie klink teenoor die desperate uitroep van oorgawe.
  2. Wanneer jy roep, is dit belangrik om God te smeek vir Sy genade vir jou as sondaar en nie net vir die uitkoms uit jou situasie nie. Onthou God is besig met ons vorming, nie om die lewe vir ons gemaklik en lekker te maak nie.
  3. Ons moet die Een vertrou na wie ons roep. Vertrou dat God die beste vir jou in gedagte het.

Kom ons kyk eers weer na Ps 107:1-3 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” 2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.

Hierdie is die boodskap van Ps 107. Die Here is goed en ons moet Hom loof want Hy red ons nie net uit die hand van die bose nie, maar Hy red ons ook van elke geestelike nood waarin ons verkeer.

Maak ‘n lysie van die dinge waarmee die Here jou al gehelp het toe jy moedeloos was en nie meer geweet het waarheen nie. Maak ‘n lysie van elke keer wat God iemand gestuur het om jou te versterk met die regte woord, sms, e-pos of oproep op die regte tyd. Dink aan die dae toe jy gevoel het die preek was vandag net vir jou.

Het jy al God geloof en gedank hiervoor? Indien wel, doen dit sommer nou weer.

Ps 107:33-41 handel oor die manier waarop God te werk gaan om sy kinders nader aan Hom te trek. Dit sê iets daarvan dat God se reddingsplan nie voorspelbaar is nie, want God is nie voorspelbaar nie. Hy is soewerein en Hy weet wat die beste vir ons vorming is. Soms gryp Hy in deur seën en soms help Hy deur ons nederig te maak of nederig te hou.

Ps 107:33-41 Hy verander waterryke gebied in woestyn, fonteinwêreld in dorsland, 34Hy maak vrugbare grond brak oor die slegte dade van dié wat daar woon.

35Hy verander woestyngebied in rietvlei,dorsland in fonteinwêreld 36en laat honger mense hulle daar vestig dat hulle stede kan stig om in te woon. 37Hulle bewerk lande en plant wingerde, en dié lewer hulle oeste. 38Hy seën hulle en hulle word vinnig meer, Hy laat hulle vee nie minder word nie.

39En as die mense minder word en wegkwyn onder die druk van teëspoed en moeilikheid, 40dan is dit die magtiges wat Hy tref met vernedering en wat Hy laat ronddwaal in ’n wilde wêreld sonder pad. 41Hy beskerm die armes teen verdrukking en maak hulle nakomelinge so talryk soos kleinvee.

As ons verstaan dat God goed is en die beste vir ons wil hê, kan ons Hom prys in alle omstandighede, in droogte sowel as in tye van oorvloed. Dan kan ons onsself oorgee aan God, en saam met die Psalm skrywer, met oortuiging sing: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Want daar is geen einde aan Sy liefde nie, nie in die goeie of die slegte nie.

Ek wil terugkom na die laaste vers, waarmee ons begin het. (:43) “Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou.” Waarop moet ons let? Wat is die eintlike les van Ps 107? Ons moet let op die Here se dade van trou. Ons moet raak sien dat alles wat met ons gebeur, die nood en die redding uit die nood, God se troue liefde demonstreer.

Slot opmerking:

Indien jy voel jy het al baie na God geroep en jy beleef nie die uitkoms waarvan Ps 107 praat nie, wil ek jou aanmoedig om ook die volgende Bybelstudie te doen en ook my persoonlike getuienis; “Vassit: ‘n les in wag” te lees.

Gebed

Bybelstudie 2

Om te wag vir Goddelike uitkoms

As ons Ps 107 lees lyk dit of alles soos ‘n fliek gebeur. Hulle het swaargekry toe roep hulle en toe kom help God en toe gaan dit beter en toe loof hulle die Here.

As ons na die geskiedenis van die Israelite kyk, lees ons dat hulle lank geroep het voordat Moses uiteindelik by hulle uitgekom het om hulle van slawerny te bevry. Ons lees van Josef wat jare in die tronk moes wees

Ons weet ook uit ondervinding dat ons hulpgeroep nie ‘n towerstaffie is wat maak dat God op ons afspring soos ‘n jong ma wie se kind skree as sy val nie.

Iemand het eendag vir William Gurnall ‘n bekende teoloog van die 1600’s gevra: “Hoekom maak God beloftes aan mense en laat hulle dan so lank wag?

Sy antwoord: Hoekom maak God beloftes aan mense? Hy hoef nie. Hy is God en kan dinge net laat gebeur. Deur beloftes te maak, bind Hy homself en maak homself ‘n skuldenaar. Hy hoef nie. Maar Hy doen dit om vir ons hoop te gee en om ons te “comfort” – (troos, sekuriteit of gemaklik te maak), sodat ons nie moedeloos word en opgee nie.

Skryf eers paar van jou eie gedagtes neer. Wat moet ons doen terwyl ons op uitkoms wag? Hoe moet ons wag? Moet ons aanhou roep tot die uitkoms kom, of is daar ‘n tyd wanneer jy genoeg gevra het?

1.   Kry die regte perspektief

Ons het baie dikwels ‘n verkeerde perspektief. Ons dink ons sit en wag vir God om ons te kom help MAAR is dit nie eerder God wat besig is om te wag nie? Stel Hy nie dalk die vervulling van beloftes of antwoorde op gebede uit, omdat:

  • Hy wag tot ons gehoorsaam word nie?
  • Hy wag dat ons, ons eie agenda moet los nie?
  • Hy wag, want Hy weet wat met my gaan gebeur, as ek nou die begeerte van my hart kry?
  • Hy wag dat ons aan die einde van ons eie krag kan kom?

Beeld: Kragopwekker wat inskop as krag afgaan. Huis kan nie op albei kragbronne gelyk werk nie.

Die Here wag dat ons aan die einde van ons eie krag kom, of oorgee sodat Hy die Groot Kragbron in en deur ons kan werk.

2 Pet3:9 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer

  • Dit is belangrik vir die Here dat ons eendag saam met Hom in die ewigheid moet wees en daarom is ons geestelike toestand vir Hom belangriker as ons gemak.
  • Hy verlos ons nie altyd van ons omstandighede nie, maar dikwels eerder van die houvas wat ons omstandighede op ons het.
  • Ons sit dikwels met baie twyfelvrae en is kwaad vir God omdat beloftes nie waar word nie, maar dikwels vat ons teksverse as beloftes en dan lees ons dit nie in die konteks van die hele Bybel nie. Dit maak dat ons verkeerde verwagtings van God het, en verwagtings wat nie uitkom nie maak dat ons teleurgesteld word.
  • Of ons vat beloftes maar vergeet die voorwaardes.

2.   Wag geduldig

Waarvoor het jy God al gesmeek en tog wag jy steeds op ‘n antwoord? Bid jy dalk al lank vir iemand se redding, finansiële uitkoms, swangerskap, jou huwelik, herlewing in jou gemeente?

Watter beloftes of profetiese woord het jy al ontvang, maar wag steeds dat dit in vervulling gaan?

Die Woord gee vir ons duidelike riglyne hoe ons op die Here moet wag, en dit gee ons die gerusstelling: Hy verstaan. God is aan die anderkant van ons wag!

Klaagliedere 3:25 Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; 26dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here;

Ps 40:2-4 NLV Ek het met hunkering op die Here gewag. Hy het afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou.

Ps 40:2-4 KJV  I waited patiently for the LORD; and he inclined unto me, and heard my cry. 2He brought me up also out of an horribleb pit, out of the miry clay, and set my feet upon a rock, and established my goings.

Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir wag, “qavah” verwoord iets van “waiting hopefully” of “waiting eagerly”

Dis interessant om te sien dat die woord “qavah” meestal in die afrikaanse bybel met vertrou vertaal is en in Engels met “wait”. Die nuwe lewende vertaling vertaal die woorde egter meestal ook as wag. Deur na verskillende vertallings te kyk kan ons so baie leer – Is wag nie maar om te vertrou nie.

Jes. 40:31 Ou Vert – Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

3.    Wag soos ‘n slaaf

In die Woord word twee beelde gebruik om te verduidelik hoe ons moet wag.

Ps 123:2 Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm.

Hoe wag ‘n slaaf?

  • In afhanklikheid maar ook in afwagting.
  • In nederigheid.
  • Nie met ‘n gesindheid van, “dis my reg” nie.

Ek het al dikwels gehoor dat christene opmerkings maak soos: “Ek het nou alles van my kant af gedoen, wanneer daag God nou op”

Ons moet baie baie versigtig wees om nie arrogant te wees voor God nie. Arogansie is ‘n vorm van hoogmoed

Ps 50:6 U is nie ’n God wat onreg verdra nie, die kwaad het by U geen plek nie. 6 Hooghartiges durf nie voor U kom nie.

NIV The arrogant cannot stand in your presence.

4.    Wag soos ‘n boer

Jakobus 5:7 Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het.

Hoe wag ‘n boer?

  • Totale afhanklikheid
  • Geduldig, tot die tyd reg is
  • Met geloof. Hy kry intussen sy skure, dorsmasjiene ens gereed vir oestyd.

5.   Hou vas aan die beloftes in die Woord en Herinner God aan Sy beloftes

Veral die wat jy persoonlik by die Here gekry het.

God sê self ons moet Hom herinner aan Sy beloftes. Jes 62:6 Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. Herinner Hom deur gereeld te bid en byvoorbeeld te sê: “Here, U sê in U Woord, U wil nie hê dat iemand verlore gaan nie: U wil hê dat almal hulle moet bekeer. Here daarom bid ek weer vir……………

6.   Wag aktief maw. Met ‘n verwagting.

  • As jy wag vir iemand se bekering: Wees Jesus vir daardie persoon, praat waar nodig en gee liefde waar nodig.
  • As jy wag vir ‘n bediening: Skool jouself soveel as moontlik.
  • As jy wag vir finansiële uitkoms: Werk asof alles van jou afhang maar glo en weet dat alles van God afhang.
  • As jy wag vir genesing van jou huwelik: Doen selfondersoek. Verander jouself waar nodig en God sal aan jou maat werk. Bid, bid, bid en wees die minste.
  • As jy wag vir fisiese genesing: Gaan aan met mediese behandeling tot God die wonder doen.

Beeld: Rugby speller wat op die “bench” sit. Hy het nie ‘n idee wanneer die afrigter hom op die veld gaan stuur en of hy ooit opgestuur gaan word, maar hy warm homself die heeltyd op dat hy gereed is as hy moet op gaan.

In sekere gevalle is dit beter om nie met te veel mense te deel waarvoor jy wag nie, dit sit onnodig spanning op jouself. Kry een of twee vriendinne en verkieslik jou huweliksmaat om saam met jou te bid.

  1. Doen self ondersoek.

Vra die Heilige Gees om jou te oortuig van sondes. As ons nie selfondersoek met die hulp van die Heilige Gees doen nie, mag ons dalk nie al ons eie sondes raak sien nie, want die Woord sê ons harte is bedrieglik.

Die ander gevaar is dat Satan ons valslik kan aankla en dan sal ons moedeloos word. Hy sal ons bly aanklae van sondes wat ons reeds bely het en wat reeds vergewe is. Ons moet leer om te onderskei tussen die Heilige Gees se sagte oortuiging en Satan se verwyte.

Psalm 139:23–24 Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24 Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad

8.   Leef Heilig!!!

Ons kan nie na God te roep vir hulp terwyl ons doelbewus in jou sonde voortleef nie. Die Bybel is baie duidelik dat God van ons verwag om toegewyd aan Hom te leef. Soms laat God juis storms in ons lewe toe, om ons te oortuig van ons sonde. Sonde maak skeiding tussen ons en God en Hy wil van Sy kant af alles doen om die verhouding te herstel.

1 Pet 1:15–16 Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16 Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Rom 12:2   Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

9.   WEET en GLO dat God oneindig lief is vir jou

Hy is jou Pa wat vir jou omgee en Hy gaan jou nie onnodig laat swaarkry nie.

  • “Wees stil en weet ek is die Heer”

Daar kom ‘n tyd wanneer ons net in eerbied stil moet raak voor God. Wanneer die geroep net ‘n opkyk met verwagting word. Wanneer ons net moet glo God is wie Hy sê Hy is. Wanneer ons net moet glo dat God sal doen wat Hy sê Hy sal doen. Wanneer ons net God se tyd moet uitwag.

Ps 46:11 Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Eerbied vir God is wanneer ons besef: God is God en ek is mens.

Gebed

‘n Persoonlike getuienis

Vassit: ‘n les in wag

Ek het by geleentheid die voorreg gehad om saam met my man, Jannie, vir sy werk ‘n paar dae Bredasdorp toe te gaan. Terwyl hy eendag besig was, is ek alleen Waenhuiskrans toe met die gedagte om heeldag net stil te word en tyd saam met die Here te spandeer.

Oppad daarheen hoor ek myself amper onverwags bid: “Here, laat vandag met my gebeur net wat U wil”. Ek was verbaas oor die skielike gedagte en het by myself gedink dis nogal gewaagd. Ek besluit toe ook, meer deurdag die keer, dat ek die dag net lofprysing wil doen, ek wil niks vra nie.

By die see aangekom, besluit ek om te gaan kyk hoe die krans van Waenhuiskrans lyk. Dis ‘n hele entjie se stap daarheen en dit het na reën gelyk. Die pad anderkant die gemerkte parkeer plek het sanderig gelyk maar daar was heelwat motorspore wat die pad darem begaanbaar laat lyk het. So besluit ek, teen my eie aard en beterwete, om tog nader te ry. Ek het nie ver gevorder voor my gehuurde motor in die diep, los sand vasgeval het nie.

Vir die volgende byna twee ure het ek in aanhoudende sagte reën die motor uit die sand probeer grawe. Hoewel ek daarvan bewus was dat daar twee kilometer daarvandaan hulp is, het ek die heeltyd net ‘n diep wete gehad dat ek moes grou. Ek het besef ek moet grou tot ek onderdeur die motor kon sien. Dit het beteken dat die dik hoop sand van die middelmannetjie, en veral dié agter die modderskerm, moes weg. Elke keer as ek moeg geword het en dit oorweeg het om te gaan hulp soek, het ek hier binne in my net geweet ek moes aanhou grawe. Ek het geweet hierdie het iets te doen gehad met my gebed van vroeër die dag en ek het heeltyd net gevra: “Here, wat wil U vir my leer.”

Toe ek uiteindelik stokflou, papnat en van kop tot toon vol sand, onderdeur die motor kon sien, hoor ek: “Jy kan maar in die motor klim, Ek sal jou help”. Met groot verwagting het ek probeer uitry, maar ek kon nie ‘n millimeter beweeg nie. Net toe sien ek in die tru-spiëeltjie ‘n bakkie wat aangery kom. Ek het dadelik geweet: God het hulp gestuur, soos Hy gesê het. Die man in die bakkie was vriendelik genoeg om hulp te gaan soek, want sy bakkie was nie sterk genoeg om my motor te kon uittrek nie. Vir die volgende ongeveer twintig minute sit ek toe in die motor en leer prakties wat dit beteken om op God te wag.

God het gesê Hy gaan help en Hy het ook onmiddellik kom help nadat Hy dit gesê het, maar niks het aan my situasie verander nie. Ek sit nog net waar ek was. Al wat ek kon doen, was om te wag en te glo die man gaan wel hulp haal. Op ‘n stadium besef ek, ek is besig om heeltyd in die spiëeltjie te kyk wanneer die hulp kom.

Weer het ek gehoor hoe God met my praat: “Wat wou jy hier kom doen?” Ek het besef ek wou kom lofprysing doen en God se teenwoordigheid beleef. Ek wou na die see sit en kyk en net rustig raak. En hier sit ek langs die mooiste, skoonste see met tyd om dit te doen, en ek is besig om op my omstandighede, waarvan God in elk geval weet, te fokus. Ek het skoon lag gekry vir myself en my lyf na die see gedraai, ontspan en begin sing. Toe die bakkie met hulp opdaag, was ek amper teleurgesteld, want dit was so lekker.

Met die hulp van ‘n 4 x 4 en vier mans is ek toe met een groot ruk uit die sand getrek. Daarna het ek besef hoe noodsaaklik dit was dat ek eers al die sand agter die modderskerm moes weg vat. Indien ek nie die sand agter die modderskerm weggevat het nie, sou die modderskerm verseker afgebreek het, of groot skade gekry het. Weer hoor ek die stem hier in my wat sê: “Hou aan bid en werk tot ek die uitkoms gee”.

– Retha de Villiers