Het jy al iets gedoen wat jy weet regtig verkeerd is en jy sukkel om jouself te vergewe? Paulus sê in Rom. 7:19: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” Ons almal kan hiermee identifiseer. Wat doen ons wanneer ons iets verkeerd gedoen of gesê het? Retha noem so paar voorbeelde van hoe ons gewoonlik reageer wanneer ons gesondig het. Ons fokus is op ons sonde. Paulus fokus egter op sy sondigheid, eerder as sy sonde wanneer hy in Rom. 7:24 sê: “Ek, ellendige mens! Wie kan my van hierdie doodsbestaan verlos?” Hy antwoord dan homself in vers 25: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” Wanneer ons op ons eie foute konsentreer, sê ons eintlik: “Hoe kon ek so iets doen? Ek is beter as dit.” Maar, wanneer ons in nederigheid aanvaar dat ons sondige mense is en alles wat ons reg doen net genade is, dan kan ons op ‘n punt kom wat ons vir die Here sê: “Ek is jammer Here. Ek het U regtig nodig. Vergewe my asseblief.” As ons die Here se vergifnis ervaar, kan ons ook aan die persoon wat ons te na gekom het jammer sê en om vergifnis vra. As voorbeeld van hoe ons met ons sondes na die Here toe kan gaan om vergifnis te vra, lees Retha ‘n gebed uit die gebedeboekie, Vallei van Gebed. Mag ons nederig genoeg wees om ons sondes te bely sodat ons ook onsself kan vergewe.