Twee pragtige aanhalings oor God se liefde word gedeel: “The love of God toward you is like the Amazon River flowing down to water a single daisy.” God se voorsiening en individuele versorging en liefde word hierin uitgebeeld. Die ander aanhaling is: “I asked Jesus: ‘How much do you love me?’ And Jesus said, ‘This much.’ Then He stretched out His arms and died.” Om die omvang van God se liefde vir jou te besef en te verstaan, moet dit geestelik geïnterpreteer word. In 1 Kor. 2:14 staan daar dat dit vir baie mense onsin is om te dink dat God vir ons so lief is dat Hy vir ons sal sterf. As God se Gees dit egter vir ons interpreteer, is dit nie onsin nie, maar ‘n werklikheid.
Ons mag nooit iemand kwalik neem wat sukkel om God se liefde te verstaan nie, want dis die Gees wat dit vir ons duidelik maak. As dit vir jou ook, soos vir Retha, moeilik is om hierdie opofferende liefde te ervaar, word jy aangemoedig om stil te word in die natuur en te sien hoe God die natuur versorg. Vra Hom dan dat jy graag Sy liefde wil ervaar. Om liefde te ervaar, is dit nodig om ook liefde te gee. Jy kan dit doen deur Hom te aanbid, ‘n gehoorsame lewe te lei en te wees wie Hy wil hê jy moet wees. Retha groet met die woorde: “Mag jy die week regtig God se liefde ervaar, maar dit ook vir Hom wys.”