Retha verwys na ‘n video van ‘n blinde Paralimpiese skiër, Jon Santacana. In die hoëspoedresies teen ‘n berg af, moet hy volkome op die instruksies (stem) van sy gids vertrou, anders kan dit hom sy lewe kos. Net soos die blinde skiër, gaan ons die toekoms ook totaal blind in.
Ons kan nie eers 5 minute vooruit sien nie. Maar op wie se stem (instruksies) vertrou ons om die regte pad aan te dui? In Jes. 30:21 staan daar: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” Herken en ken jy die Heilige Gees se stem wat vir jou die koers aandui? In Spr. 3:5-6 staan daar: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.
Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” Om Sy stem te hoor, moet ons tyd met die Here spandeer. Om Hom te ken en te vertrou kom nie vanself nie. Ons moet dit aanleer en oefen.