In die volgende paar weke gesels Retha oor die name van God wat spesifiek gebruik word rondom Kersfees. In die Bybel verwys Wonderbaar slegs na God, nooit na ‘n mens nie.

Wonderbare Raadsman verwys dus na ‘n Goddelike raadgewer, berader of mentor (“counselor”). In die boek, The Wonder of His Name deur Nancy DeMoss Wolgemuth, word vier redes gegee waarom ons kan sê dat Jesus ‘n wonderbare raadsman is. (1) Jesus ken ons as mens, want Hy was self mens. Hy ken ons persoonlik, want Hy is altyd by ons. Geen berader ken ons soos wat Jesus ons ken nie. (2) Jesus ken ons probleme. Hy weet presies wat ons deurmaak. (3) Jesus weet wat die oplossing vir ons probleme is. (4) Jesus weet hoe om dit aan ons oor te dra. Hy weet wanneer ons wat moet hoor. Dit beteken dat ons met raad vir enige probleem na Hom toe kan gaan, maar met ‘n oop gemoed en die bereidwilligheid om te luister.

Mag ons wanneer ons hierdie Kerstyd sing van die Wonderbare Raadsman, Jesus regtig sal beleef en ook gebruik as ons Wonderbare Raadsman.