In Jes. 9:5 staan daar: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Vrede is die een ding wat mense van alle lande en oor die eeue heen, begeer. Vrede is nie iets nie, dit is ‘n Persoon. Vrede is Jesus wat aan ons gegee is. Dit is ‘n geskenk van God. Die beginpunt van alle vrede, is om vrede met God te hê. Dan kan ons vrede hê te midde van onmin en moeilike omstandighede. Vrede is nie die afwesigheid van moeilike omstandighede nie. Dit is om God te beleef te midde daarvan. Vrede is ook om te leef met die wete dat my sondes vergewe is. Ek is vrygespreek. Vrede is om te weet dat God in beheer is. Dit is ware vrede. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan, waarvan daar in Fil. 4 gepraat word, is bonatuurlik. As jy graag daardie bonatuurlike vrede wil ervaar, of dit weer wil ervaar as dit jou dalk ontgaan het, vra dit van die Here. Jesus wag vir jou met ope arms.

Mag ons hierdie Kerstyd weer vir Jesus, ons Vredevors, ontmoet.