So aan die begin van ‘n nuwe jaar, moedig Retha ons aan om die Lewensaadjies wat ons hoor in ons eie lewens te plant sodat dit geestelike groei tot gevolg het. Sy nooi ons ook uit om dit in die lewe van ander te plant, sodat ook hulle geestelik kan groei, nader aan God, meer na die beeld van Jesus en ook na groter gehoorsaamheid aan die insprake van die Heilige Gees.
Die gelykenis van die Saaier en die toestand van die verskillende tipes grond wat in die Woord beskryf word, herinner Retha daaraan dat party mense se harte hard is, en ander s’n vlak, verdeeld of goed is. Sy vra dat ons ons eie harte sal ondersoek. Op watter tipe hart val die Here se saad as Hy met jou praat oor sekere goed? Hoe ontvanklik is jou hart vir die Here se opdrag? Die Here sê: “Vertrou My.” Doen selfondersoek. Is jy gereed en ontvanklik om geestelik te groei hierdie jaar?