Retha onthou hoe maats in haar “autograph”-boekie op skool die woorde geskryf het: Yster slyp yster. Sy vermoed min het egter geweet dat dit uit die Bybel kom. In Spr. 27:17 staan daar: “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. Dieselfde word bedoel in Spr. 13:20, Spr. 14:7 en Spr. 22:24. Ons het ‘n keuse deur wie ons ons wil laat vorm. Na wie gaan jy luister, by wie gaan jy raad vra? Kyk na die vrug in mense se lewens en word deur hulle gevorm. Ons het ‘n verantwoordelikheid om mekaar te slyp. Watter tipe vriendin is jy? As jy iemand slyp, hoe sal hulle lyk? Dit is maklik om net vir iemand te sê wat hulle wil hoor, maar is jy dan ‘n vriendin waarop iemand kan reken? In Dan. 12:3 staan daar: “Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.” Kom ons help mekaar op die regte pad.