Retha verduidelik hierdie week wat bedoel word as hulle gesin praat van: “Vertel my van jou boom en ek vertel jou van my bos.” Ons almal luister soms na iemand se storie en dan “trigger” dit ‘n gedagte by jou en jy begin praat, sonder om klaar te luister of sonder om eers die ander persoon se emosies te erken.

So sit jy die aandag op jouself en vat dit weg van iemand anders af. As jy agterkom dat jy ook geneig is om hierdie te doen, lees Jak. 1:19: “My liewe broers, dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.” Om te luister is ‘n aangeleerde gedrag. Dit kom nie vanself nie. Ons moet leer om vir mekaar te luister en klaar te luister en dan vir die persoon erkenning te gee. As jy ook hiermee sukkel, dink by jouself: “Is my storie regtig gepas vir nou?” Laat iemand jou verantwoordbaar hou, soos wat Retha-hulle met die boom- en die bosstorie gedoen het. Wees versigtig om nie iemand se storie van sy boom te vat en van jou bos te vertel nie.