Retha lees nou die dag ‘n artikel in News 24 wat haar verskriklik ontstel het. Sy het gehoor dat Moreletapark, waar sy al vir meer as 30 jaar woon, een van die “hot spots” vir mensehandel is. Slawerny is steeds deel van die mensdom. Dit het haar laat dink aan die gesprek wat God met Kain gehad het voordat hy vir Abel doodgeslaan het. Sy lees Gen 4:4-7. Net soos die kriminele mense in hulle mag wil kry en hulle dan beheer, is dit die duiwel se stategie ook. As ons sonde doen, kry hy jou in sy mag en maak dat jou omstandighede vir jou sleg is en dat jy vasgevang voel. Dit is die teenoorgestelde as wat die Here vir ons kom doen het toe Hy ons vrygemaak het. Hy belowe vir ons vryheid en voorspoed, nie teenspoed nie. Hy gee vir ons altyd ‘n keuse. Retha lees ook 2 Kor. 3:17 en Gal. 5:1. Ervaar jy die vryheid waarvan hier gelees word? Staan jy vas in hierdie vryheid sodat jy nie weer deur die vyand onder die slawejuk ingedwing word nie? Dit is ‘n ewigdurende stryd. Ons kies vryheid, maar Satan probeer ons weer onder die slawejuk indwing deur o.a. vrees en ongeloof. Ons moet egter elke keer daarteen kies en fokus op wie God is, Sy karakter en Sy beloftes. Ons kán in vryheid leef in hierdie sondige wêreld.