Die verhaal van Mefiboset in 2 Sam. 9 word vertel. Net soos wat Dawid, as gevolg van sy liefde vir Mefiboset se pa, Jonatan, genadig was teenoor Mefiboset en hom deel gemaak het van sy huishouding, kom maak God ons deel van Sy huishouding as gevolg van die liefde van Sy seun, Jesus, wat vir ons aan die kruis gesterf het. Hy voed ons met die brood van die lewe en gee vir ons lewende water om te drink en sê vir ons: “Kom sit aan my tafel terwyl jou teenstaanders toekyk.” God sien nie ons gebreke raak nie, soos Dawid nie Mefiboset se gebrek raakgesien het nie. Charles Swindoll, wat ‘n boek oor die lewe van Dawid geskryf het, stel dit so mooi: “God covers our crippleness with His tablecloth.” (In love, God allowed His tablecloth of grace to cover our sin.) Leef jy met hierdie bewustheid dat jy God se kind is, dat Hy vir jou voorsien en dat jy Sy beskerming geniet? Ons kan dit so maklik vergeet. Mefiboset se storie is ‘n genadestorie, net so is ons storie, as ons Jesus aanneem, ‘n genadestorie, onverdiend. Mag ons dit nooit vergeet nie. Kom ons dink weer daaraan en ons eer weer die Here vir dit wat Hy vir ons gedoen het.