Die voorbeeld van ‘n perd wat ingebreek word, word gebruik om die verskil tussen gebrokenheid en om gebreek te wees, te verduidelik. Wanneer ‘n ruiter ‘n perd inbreek, is die doel nie om die perd se wil te breek nie; dis meer om die perd se wil onderhewig te maak aan die ruiter se wil. Dis presies hoe dit met ons is: wanneer ons gebroke is, is ons bruikbaar vir God. Gebrokenheid is nie ‘n emosie nie, dis ‘n gesindheid. Dis om te weet dat dit wat ek is en het, net genade is. Dis ‘n gesindheid van dankbaarheid, van oorgee aan die wil van die Here, van berou oor sondes, nederigheid, eerbied vir God en van ‘n buigsame gees. Om gebreek te wees, is die teenoorgestelde. Dit is ‘n emosie. Dit is om gebreek, moedeloos en hartseer te voel oor slegte omstandighede, soos bv. ‘n liefdesteleurstelling, trauma of die afsterwe van ‘n geliefde. Iemand het eenkeer gevra met watter perd jy graag oorlog sal wil maak, die perd wat die sterkste is of die perd wat die gehoorsaamste is. Ons is bruikbaar vir die Here wanneer ons ons wil aan Sy wil onderwerp. “Is jy hardkoppig en eiesinnig of is jy gebroke en bruikbaar vir die Here?