Soos ‘n paal wat ‘n jong boompie staande hou in wind en weer, so hou God ons staande in storms. God is die paal was vasstaan en ons gebede is die toutjie wat die boom en die paal aanmekaar vasmaak. Wanneer jy vir iemand bid wat deur ‘n moeilike tyd gaan, is jy nie die paal wat haar staande hou nie. God is. Jou gebede is die toutjie wat haar help om vasgebind te bly aan die Here wanneer sy nie krag het om te bid nie, wanneer sy in ‘n gat is, of kwaad is. Dit is jou gebede wat haar help om vasgebind te bly aan die Here. Hoe bly jy staande in jou storms? Is jy geanker en vas aan God wat jou staande kan hou? Jou eie gebede is ook soos daardie toutjie wat die boom en die paal aanmekaar vashou. Ons het egter partykeer versterkings nodig. Partykeer het ons nodig om vir iemand te sê: “Help my, bid saam met my.” Wie is daar in jou lewe wat jy kan vertrou en vir wie jy kan sê: “Ek het nou gebed nodig”? Wie is daardie persoon teenoor wie jy eerlik kan wees oor jou sondes en jou verlede? As jy so iemand het, gee gereeld terugvoer en sê gereeld dankie vir deurbrake. Moenie alleen deur die lewe gaan nie. Soek iemand wat jou help om staande te bly in jou storms en mag jy ook iemand so dra in gebed deur haar storms.