Die Here openbaar Homself dikwels in die Woord deur vrae te vra. In die eerste 39 hoofstukke van Job gee Job se vriende vir hom raad. Die resultaat is dat Job eintlik seerkry. In die 40e hoofstuk praat God vir die eerste keer en begin Hy vir Job vrae vra. Hy vra die vrae op so mooi manier dat Hy Homself aan Job openbaar. Die resultaat is dat Job bemoedig word: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.” (Job. 42:2) Dit is asof Job net oorgee en sê: “Ja Here, U is God.” Daar is baie gedeeltes in die Bybel waar Jesus sulke retoriese vrae vra. Hy verduidelik nie Homself nie, maar vra vrae sodat ons Hom beter leer ken. Wanneer Retha ‘n paar van hierdie teksverse lees, vra sy dat ons regtig sal luister asof dit God self is wat met ons praat en dat ons daardeur bemoedig sal word: Jes. 40:25-29; Jes. 49:15-16; Matt. 7:9-11; Rom. 11:34-36.