Waaraan dink jy as jy die woord “donkerte” hoor? Ons assosieer donkerte met onheil. God het egter baie keer in die donkerte gewerk. Retha noem verskeie voorbeelde van God se werk in die donkerte. Sy vertel van Abraham, Moses, Salomo en ook Jesus se grootste werk aan die kruis. Tydens die drie ure van duisternis oor die aarde, moes Jesus die beker van oordeel (waarvoor Hy so bang was) drink. Toe Hy dit klaar gedrink het, het Hy gesê: “Dit is volbring.” En sterf. Dawid het ook verstaan hoe God in die donker werk. In Ps. 139 vra hy: “Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?” (v.7) Dan besef hy dat hy nie van God kan vlug nie, want: “… vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.” (v.12) Retha moedig ons aan om beurtkrag te gebruik as geleentheid om te gesels oor God se werk in die donkerte en dat Hy ook daar by ons is.