Orals om ons is mense wat swaar kry, mense wat angstig is en mense wat spanning beleef. Dit is waarom Retha mense graag deur hierdie week se Lewensaadjie wou bemoedig. Sy het egter besef dat sy alleen dit nie kan regkry nie. Gelukkig herinner die Here haar toe aan ‘n tyd in haar eie lewe toe sy moedeloos, wanhopig, angstig en bang was. In daardie moeilike tyd, het sy Ps. 121 oor en oor opgesê. Sy het die Psalm uit haar kop uit geleer en dan kort-kort hardop gesê: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.” Retha het onbewustelik gedoen wat haar Amerikaanse vriendinne van Revive Our Hearts altyd sê mens moet doen: “Council your soul with the Word of God.” Dit gaan nie oor positiewe denke nie. Dit gaan daaroor om die waarheid in jouself te laat groei, jouself te laat voed met die waarheid totdat God se waarheid leuens vervang. Ons word aangemoedig om enige teksvers wat vir ons baie beteken te vat en dit oor en oor vir onsself op te sê. “Council your soul with the Word of God.”