Retha vertel die storie van ‘n Oukersaandkonsert, haar dogtertjie, Gerdie, toe sy omtrent vier jaar oud was en ‘n kantgordyn. Gerdie was ‘n engeltjie in die konsert en haar kostuum, ‘n lang kantgordyn. Toe almal op ‘n stadium die woorde moes sing: “Ere aan God” en “Vrede op aarde”, het Gerdie haar so ingeleef dat sy begin dans het. Sy raak toe verstrengel in die lang kantgordyn en almal begin lag. Maar Gerdie het net aanhou sing en dans, ongeag die gordyn en gelag. Die gebeurtenis is vir Retha so ‘n mooi demonstrasie van die vrede wat Jesus kom gee het aan dié wie in Hom ‘n welbehae het. Dit is die vrede om te midde van jou omstandighede aan te hou fokus op die Here en aan te hou sing en dans. Retha se voorneme is om hierdie Kersseisoen haar vrede te behou en te bly fokus op dit waaroor dit regtig gaan. Sy wil kreatief wees en die tema van vrede, vreugde, hoop en liefde uitbeeld in haar kersversierings, plekmatjies en kerspakkies. Ons word aangemoedig om te dink wat die boodskap is wat ons tydens Kersfees wil uitbeeld en om hierdie feesseisoen, en ook in 2023, aan te hou dans terwyl ons ons oë op God gevestig hou.