Dit is ‘n nuwe jaar! Retha vertel dat sy die afgelope Kersseisoen gereeld die woord “comfort food” (trooskos) gehoor het. Dit het haar laat dink aan trooswoorde. Dit is woorde wat, soos kos, vir jou daardie lekker gevoel gee. Vir Retha is dit woorde soos Bosveld, familie en aanvaarding. Die woord wat egter bo alle woorde uitstaan, is die woord “Emmanuel”, God Met Ons, ‘n woord wat ons ook baie tydens die feesseisoen gehoor het. Retha nooi ons uit om te kom proe aan die woord “Emmanuel”, ongeag of dit vir jou ‘n bekende of vreemde woord is. Sy gee vir ons drie happies. Die eerste happie is die woord “God”. God is die een wat jou liefhet, vir jou omgee, wat die beste vir jou wil hê, wat jou wil help, wat jou lei, wat jou veilig wil hou. Dit is Hy wat by jou is. Die twee happie is die woord “met” in “God MET Ons”. Die woord “met” beteken regtig naby, hier by ons. Ons kan enige tyd met Hom praat. Die derde happie is die woord “ons” in “God Met ONS.” “Ons” beteken alle mense wat Hom aangeneem het, ongeag of jy Sy nabyheid ervaar of nie. Wanneer jy God aanneem as jou Saligmaker en Verlosser, raak hierdie teenwoordigheid vir jou ‘n werklikheid. Dit is Retha se wens vir jou in 2023, om te leef met die wete dat God Emmanuel is, dat God met jou is.