Albei Retha se ouers het gedurende April gesterf aan Covid. Sy wil graag met die volgende paar Lewensaadjies deel wat sy by haar ouers geleer het - deur hulle lewe, maar ook uit hulle sterwe. Retha hoop dat ons ook iets daaruit kan leer. Sy begin by hulle laaste paar dae voor hulle afsterwe.
Gerdie, Retha se dogter, was by toe die ambulans haar oupa kom oplaai het en vertel wat haar ouma se laaste woorde aan haar oupa was voordat hy hospitaal toe is: “As dit dan nou so moet wees, dan is dit so.” Die vrede waarmee die woorde gesê is, het ‘n geweldige indruk op haar gemaak. Daar was nie vrees nie. Hulle kon dit opreg bedoel, omdat hulle hulle Verlosser geken het. Hulle het geweet waarnatoe hulle op pad is. Daarom kon die familie ook vrede hê.
Mag jy ook die vrede ervaar wat hulle ervaar het. Mag dit ook vir jou mense ‘n vrede gee omdat jy vrede het oor jou toekoms.