Retha wil die volgende twee Lewensaadjies aan Paasfees wy. Wat gebeur het toe die eerste Paasfees gevier is, word bespreek. Die eerste Paasfees is gevier terwyl die Israeliete in Egipte was. Die verhaal van Josef, sy pa en broers word kortliks vertel. Ook word ons herinner aan die opdrag wat Moses en Aäron van God gekry het om die Israeliete uit Egipte te lei. God stuur tien plae om Farao te oorreed om Sy volk te laat gaan. Die eerste Paasfees vind plaas net voor die tiende plaag. God beveel Moses om vir die Israeliete te gaan sê om presies te doen wat vir hulle gesê word. Dit is belangrik omdat die gebeure in Egipte moes dui op die geboorte van Jesus. Net soos Moses die Israeliete sou help om uit Egipte bevry te word, sou Jesus elke persoon wat in Hom glo, vrymaak van die las van sonde. Dit was ‘n geloofsaak vir die volk. Die Israeliete moes vreemde goed doen, soos die slag van ‘n lam en die smeer van die lam se bloed aan hul deurkosyne. Dit was moeilik om die sin daarvan in te sien. Hulle moes verder hoor dat as hulle dit nie doen nie, hulle oudste seuns sou doodgaan. As hulle die opdrag presies sou uitvoer, sou hulle seuns gespaar word. Die boodskap van die Evangelie is vandag nog vir ongelowiges baie moeilik om te begryp. Tweeduisend jaar gelede is daar ‘n man met die naam, Jesus, gebore en Hy het aan ‘n kruis gesterf sodat gelowiges vir ewig kan lewe. As jy dit nie glo nie, gaan jy nie vir ewig lewe nie. Dit moet belaglik klink vir die ongelowige, maar vir ons wat ‘n ontmoeting met Jesus gehad het, is dit ‘n wonderlike realiteit.

As jy voel dat jy die wonder van ‘n verhouding met Jesus ervaar, vier hierdie Paastyd ‘n dankfees. As jy nog nie vir Jesus ken nie en dink die verhaal is belaglik, of jy verstaan dit nie, dink aan ‘n gelowige met wie jy kan gesels, vir wie jy vrae kan vra en na wie se getuienisse jy kan luister, of luister na video’s oor mense se ontmoetings met Here. Lees Bybel en bid dat as Jesus werklik bestaan, Hy Hom aan jou sal openbaar.

Related Video