Soos beloof, deel Retha hierdie week ‘n paar praktiese wenke van hoe Paasfees gevier kan word. Een daarvan is om ‘n kruis in jou huis op te sit. Drapeer daaroor ‘n rooi lap wat die bloed van Jesus simboliseer. Vervang dan op die Opstandingsondag die rooi lap met ‘n wit lap. Dit simboliseer Jesus se oorwinning oor die dood. Jy kan ook meer betekenis daaraan gee deur bv. op die Vrydagaand vir elkeen wat glo dat Jesus vir hul sonde gesterf het, geleentheid te gee om hul name op die rooi lap te skryf en dit oor die kruis te drapeer.
Die leë grafdoeke was ‘n teken dat Jesus leef. Elkeen kan geleentheid kry om die wonderwerke wat hulle die jaar beleef het, op die wit lap neer te skryf en dit oor die kruis drapeer. Dit is bewys daarvan dat Jesus leef. Nog ‘n idee is om ‘n mooi tafel te dek en goed met simboliese waarde hiervoor te gebruik. Retha vertel ook van die keer toe hulle broodrolletjies uitgehol het en dit ‘n gesprek oor die leë graf ingelei het. Die Paastoneel kan opgevoer word in plaas daarvan om dit te lees. Dit het ‘n ander betekenis om iets op te voer as om dit te lees. Met hierdie enkele idees moedig Retha ons aan om kreatief te raak sodat die betekenis van Paasfees ‘n groter werklikheid word.