In Ps. 23:4 staan daar: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” (1983) Retha weet nie hoe jou donker dieptes lyk nie. Is dit finansies, die situasie in ons land of dalk eensaamheid? Wat wel seker is, is dat die Here belowe dat Hy saam met jou in hierdie donkerte is. Nêrens in die Woord staan dit dat Christene nie gaan swaarkry nie, maar daar staan geskrywe dat ons nie alleen deur swaarkry, of die dal van doodskaduwee (1953) sal gaan nie, want “in (Sy) hande is ek veilig.” ‘n Skaap het niks om homself mee te verdedig nie. Hy het nie horings, tande of kloue nie. Al wat hy kan doen, is weghardloop. Maar wanneer hy sy herder in die oog het, kan hy rus, want hy weet die herder sal die wolwe van hom weghou. So is dit met ons ook. As ons ons oë op die Here hou kan ons rus, want ons weet dat ons onder Sy beskerming is. Mag ons in ons donker tye leef met die sekere wete dat die Here in beheer is van ons lewens en dat Hy ons sal beskerm. Hy laat ons rus, want Hy is in beheer.