In die reeks oor innerlike sterkte, word daar hierdie week gekyk na hoe iemand lyk wat innerlik sterk is. Retha gebruik die beeld van ‘n styfopgeblaasde springkasteel, wat die spronge van die kinders kan hanteer om te verduidelik hoe innerlike sterkte lyk.

Hoe lyk iemand wat staande bly in moeilike omstandighede? a.) So iemand is emosioneel stabiel. Dit beteken dat hulle nie toelaat dat hulle emosies hulle dade en algemene funksionering beïnvloed nie. Hulle onderdruk nie hulle emosies nie, maar hanteer en verwerk dit. b.) So iemand het gevestigde waardes. Hulle weet wat hulle glo en groepsdruk, moegheid en ongemaklike omstandighede gaan nie maak dat hulle hulle waardes prysgee nie.

Hulle kan op ‘n mooi manier “nee” sê. Hulle kan kritiek hanteer, foute erken en jammer sê. Hulle het selfdissipline en hou gereeld stiltetyd. Hulle het selfbeheersing wanneer hulle kwaad word, is nie selfgerig nie, is ingestel op ander se behoeftes, nederig en word nie deur elke dwaalleer beïnvloed nie. c.) So iemand het hoop, want hulle weet dat God in beheer is. Dit is egter nie altyd so maklik om innerlik sterk te wees nie, daarom moedig Retha ons aan om, soos Paulus in Ef. 3:16, te bid vir innerlike sterkte. Bid dit daagliks vir jouself en vir die mense vir wie jy lief is.

Related Videos