Vandag wil Retha oor nog iets praat wat God haat. In Spr. 6:19 staan daar: “God haat iemand wat rusie stook tussen broers.” Wat is die patroon van jou lewe – is jy altyd in rusies betrokke? Haat, selfverheffing, humeurigheid en skinder veroorsaak twis.
Herken jy iets hiervan in jou lewe? Weet jy wanneer om op te hou, ook met jou woorde wat rusie veroorsaak? Ons moet weet wanneer om op te hou karring. Laat vaar partykeer. As jy ‘n vredemaker is, hoe maak jy vrede? Storm jy soms in en vererger ‘n twis, soos iemand wat ‘n kwaai hond aan die ore beetpak? (Spr. 26:17) Of ontlont jy ‘n twis sagkens voordat die damwal breek en die vloed jou tref? (Spr. 17:14) Die wyse Salomo het gesê: “Liewer bo-op ‘n dak woon as saam met ‘n twisgierige vrou onder een dak.” (Spr. 25:24)