Vandag is ons weer terug by ons reeks oor Spreuke. Retha lees Spr. 3:27: “Moenie ‘n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te doen nie.” Wanneer Retha hierdie vers lees, dink sy eerstens aan finansiële hulp. Sy beleef egter dat sy dieper na die woord “weldaad” moet kyk. “Wel” beteken dat dit goed gaan. Watter weldade kan ons doen wat kan help dat dit goed met iemand gaan?
Retha dink aan iets soos die bemoediging en aanmoediging van ons kinders, ‘n kollega, ‘n werknemer en ook vreemdes. Wees ingestel op iemand se praktiese behoeftes, soos om vir ‘n tuin- of huiswerker wat ver moet stap ‘n rygeleentheid aan te bied. Vra jouself af: “Wat is binne my vermoë om die lewe vir iemand anders makliker te maak?” Mag ons hierdie week uitreik na ander.